News

Regte trekkertegnologie maak ’n verskil

Mnr. Alec Pieterse van Schweizer-Reneke by sy tegnologies gevorderde MF 8690

Om in ’n mededingende mark te oorleef, moet jy jou produksiekoste verlaag en jou opbrengs en winsgewendheid verhoog. Hiervoor is tegnologie jou vriend – in die kantoor en ook op die land.

Mnr. Alec Pieterse van die plaas Pienaarsfontein by Schweizer-Reneke verbou sowat 1 000 hektaar graan, hoofsaaklik mielies, sonneblomme en sojabone. Om produktiewer te boer gebruik hy ’n digitale meganisasieprogram wat hy self geskep het en waarmee hy per gewas beplan en begroot. Hy pas ook so ver moontlik presisieboerdery toe.

Die meganisasieprogram bring insetkostes en ander faktore bymekaar om die uiteindelike winsgewendheid per hektaar te bepaal. Faktore wissel van aankoopprys, versekering en lone tot die effektiwiteit waarteen gewerk word en, natuurlik, brandstofverbruik.

Met werktuie soos Massey Ferguson-trekkers, ’n selfaangedrewe Challenger-spuit en Challenger-stroper, word brandstof beperk tot ruim onder 20% van die totale insetkoste vir byvoorbeeld mielies, sê Alec.

’n Belangrike werktuig wat help om sy Excel-somme te laat klop is ’n hoëtegnologietrekker van Massey Ferguson. Dié MF 8690, wat 250 kW lewer, word gebruik vir grondvoorbereiding, kunsmistoediening en om te plant. Dit het reeds meer as vyf seisoene of 4 000 uur agter die blad.

Soos die modelle in Massey Ferguson se nuwe MF 8700-reeks is die MF 8690 toegerus met ’n AGCO Power-enjin en Dyna-VT-transmissie. Die transmissie bied deurlopende spoedvariasie, terwyl die trekkerbestuurstelsel, DTM (Dynamic Tractor Management), outomaties die enjinspoed en transmissie aanpas vir maksimum kraglewering en brandstofekonomie ongeag die toepassing.

Die trekker het ’n hysvermoë van 12 ton op sy driepunt en stewige hidrouliese kapasiteit wat stabiele vloei vir die beheer van implemente lewer.

“Die Dyna-VT-transmissie is wonderlik,” sê Alec. “Jy kan met ’n grondboontjieplukker byvoorbeeld 0,1 kilometer per uur vinniger of stadiger ry en is deurentyd verseker van optimale trekkrag en brandstofverbruik.”

Die MF 8690 sleep ’n snyeg met 40 skottels asook ’n skeurploeg met ses tande wat op verskillende dieptes tot 450 mm diep werk om mielielande voor te berei, en word ook gebruik vir die voorplantuitstrooi van kunsmis en om te plant.

Die brandstofsyfers spreek vanself. Die trekker sleep die skeurploeg teen 7-8 km/h met ’n gemiddelde dieselverbruik van 11 l/ha, en plant mielies op lande wat gerip is teen 9,5 km/h met ’n dieselverbruik van 4,5 l/ha. Sonneblomme word teen 14 km/h met ’n dieselverbruik van 2,4 l/ha geplant.

Die trekker is ten volle toegerus vir presisieboerdery, wat met alles behalwe die sny van reste toegepas word. Dit help verseker dat landerye optimaal voorberei word, sonder oorvleueling of vermorsing van tyd en brandstof op swakker kolle, en dat saad korrek geplaas en kunsmis akkuraat toegedien word. Die skeurploeg is ook deur Alec aangepas vir presisieboerdery, gegrond op varieerbare kunsmistoediening.

Die planter is ’n 12-ry-stapelmodel wat hy self met Massey Ferguson-plantereenhede gebou het en word vanuit die kajuit beheer. Dit sluit die varieerbare toediening van “pop-up”-kunsmis vanaf ’n 1 500 liter-tenk in.

Tydens planttyd word die MF 8690 deur Alec se pa, Ferdie, bestuur om doeltreffendheid en die beste moontlike plantestand – 22 000 per hektaar vir mielies en 45 000 per hektaar vir sonneblom – te verseker.

Massey Ferguson se planttegnologie, wat met positiewe lugdruk werk, bied ook voordele, sê Alec. “Met ’n vingerplanter moes ek die saadplate tot vier keer per dag afhaal en skoonmaak. Dit is nie die geval met Massey Ferguson nie en die eenhede plant ook baie akkuraat.”

Hy het ook ’n MF 6495-trekker met kraglewering van 119 kW en ’n Dyna 6-transmissie met 24 vorentoe- en truratte wat jy sonder ’n koppelaar wissel. Dié transmissie kom veral tot sy reg met die sleep van 32 ton waens met mielies silo toe. Die trekker word ook gebruik vir snyegwerk.

Wanneer jy net een groottrekker het, is betroubaarheid en tegniese ondersteuning van groot belang. Toe dit uiteindelik vanjaar gereën het, het Massey Ferguson binne vier dae 380 hektaar mielies geplant. “Daai vier dae het my oes gemaak,” sê Alec.

“Behalwe dat Massey my die betroubaarheid, werkverrigting en tegnologie bied wat ek soek, kan ek ook staatmaak op JBJ Machinery by Schweizer-Reneke se ondersteuning om deurgaans so produktief moontlik te werk.”