News

Die slim platsnyer

Massey Ferguson se selfaangedrewe WR 9760-platsnyer bied tegnologie wat ’n verskil maak vir voermaakboere en -kontrakteurs.

Wanneer jy groot hoeveelhede hooi of kuilvoer vinnig en doeltreffend moet sny, is net die beste platsnyer-tegnologie goed genoeg – en dit is wat Massey Ferguson se selfaangedrewe WR 9760 jou bied.

Dié platsnyer uit Amerika beskik oor talle tegnologie-eerstes wat sorg vir groter presisie, gehalte, rygerief en brandstofekonomie, en ’n laer loopkoste.

Die WR 9760 word deur Barloworld Agriculture versprei en kom uit die Massey Ferguson-vervaardiger, AGCO, se Hesston-fabriek in Kansas. Hesston het in 1955 landbou se eerste selfaangedrewe platsnyer vervaardig en deur die jare hierop voortgebou met die een deurbraak ná die ander.

Die WR 9760, wat aangedryf word deur ’n AGCO Power-enjin van 140 kW, sluit nuwe tegnologie in soos die eksklusiewe C1000-moniteringstelsel, V-Cool-verkoelingstelsel en GlideRider-suspensie op die agteras.

Met die C1000-stelsel word alle hidrouliese, enjin- en aandryffunksies met ’n rekenaarterminaal uit die kajuit beheer. Dit waarborg ’n vlak van presisie en doeltreffendheid wat nog nooit vantevore by ’n platsnyer beskikbaar was nie. Elke moontlike aspek kan vanuit die kajuit gemonitor word, onder meer hektare gewerk, die hoogte van die snykop en brandstofverbruik.

Die WR 9760 bied ook outomatiese beheer van die snykop se snelheid. Wanneer enjinsnelheid verminder, word die hidrouliese vloei na die snykop outomaties verhoog sodat konstante sny-omwentelinge gehandhaaf word vir die uniforme sny en kneusing van gewasse.

Die hidrouliese V-Cool-verkoelingstelsel sluit onder meer ’n outomatiese tru-funksie in wat elke 15 minute aanskakel om die verkoelers en waaierskerm skoon te hou.

Die kajuit en GlideRider-suspensie op die agteras sorg vir groter rygerief. ‘n Semi-aktiewe, luggeveerde sitplek “meet” ook die operateur se bewegings en pas sitplekvering outomaties aan vir groter rygerief. Die sitplek beweeg vorentoe en agtertoe, en ook van kant tot kant.

Met die ontwerp is ’n groot fokus op veiligheid geplaas, wat tot eienskappe soos die WR 9760 se positiewe skyfremstelsel gelei het. Wanneer die parkeerrem aangeskakel word, kom die hele platsnyer tot stilstand. Daar word ook outomaties oorgeskakel na neutraal sodat die masjien nie skielik kan begin beweeg nie.

Hidrouliese flottasie aan die kante van die snykop verseker dat dit nooit aan die grond raak nie. Snykoppe kantel ook nie net op en af nie, maar ook sywaarts, vir groter doeltreffendheid teen hellings.

Twee tafels is beskikbaar, ’n vasteraam-skyfsnykop met ’n werkwydte van 4,9 meter en ’n “draper-tafel van 5,5 tot 10,92 meter.

“Briljant”

“Die WR 9760 is ‘n briljante stuk toerusting”, sê Justin Nel, eienaar van Nelaway Kontrakteurs by Nottingham Road in KwaZulu-Natal.

Nelaway sny ’n wye verskeidenheid gewasse vir hooi- en kuilvoerklante in KwaZulu-Natal, Suid- en Oos-Kaapland en in die binneland so ver as Christiana. Om op hierdie skaal kontrakteurswerk te doen stel buitengewone eise aan toerusting en operateurs, en die WR 9760 wat Nellaway sedert die begin van die seisoen gebruik, het al sy verwagtinge oortref, sê Justin.

“Die platsnyer kombineer gebruikersvriendelike, gevorderde tegnologie met robuuste werkverrigting, en die spoed waarteen hy werk, snygehalte en uitstekende brandstofverbruik is tot ons kliënte se voordeel. In die veld maak eienskappe soos die klein draaisirkel ook ’n verskil.”

Nelaway se WR 9760, wat toegerus is met ’n RazorBar-snykop van 4,9 meter, vervang drie trekkers – twee met snyers en een met ’n hark. Die voordele hiervan was so indrukwekkend dat ’n tweede platsnyer reeds aangeskaf is.

Nog ‘n oorweging met die aankoop was Hesston se reputasie vir gehalte-hooimaaktoerusting, sê Jeremy Grueneberg, Nelaway-bedryfsbestuurder en ’n veteraankontrakteur. “Daarby kan ons staatmaak op puik ondersteuning deur ons handelaar, Leon Rohrs van Drakensberg Agricultural Services op Winterton.”

Een-stop hooimaak

Barloworld Agriculture bied aan Suid-Afrikaanse boere ’n volledige, betroubare hooimaak-oplossing uit die Massey Ferguson-stal. Afgesien van selfaangedrewe platsnyers, bestaan die hooimaakreeks ook uit tolsnyers, hooilugters (“tedders”), rotorharke, vierkant- en blokbalers asook laaigraaf-opsies.